Posts Tagged reen
Karlien & Derick: 8 Maart 2013 – ‘n Nuwe Begin
Posted by blankcanvas1 in Uncategorized on May 23, 2013
Ons reis saam met hierdie ongelooflike paartjie het begin in 2012, toe ons hulle troue vir 24 November 2012 by ‘n landgoed in Somerset Wes beplan het. Al die reelings was so te se in plek toe ek die dag die oproep ontvang om my in kennis te stel dat die troue tydelik uitgestel is, omdat daar dinge was wat die paartjie moes uitsorteer voordat hulle ewige trou aan mekaar beloof. Ek was vir ‘n oomblik verbaas, maar omdat ek self getroud is, het ek geweet dat struikelblokke wat voor die huwelik net struweling veroorsaak, groot monsters kan raak as mens nie hulle koppe afkap voordat mens oor die tou getrap nie.
Daarom, toe 8 Maart 2013 – hulle nuwe begin – mistig en reenerig daarna uitsien, het ek geweet dat dit Hemelse konfetti is wat op hulle sou neersak soos wat hulle hulle beloftes maak. Hierdie was een van die mees romantiese troues wat ons nog ooit die voorreg gehad het om by betrokke te wees. Dit was asof die lug staties was met die paartjie se diep liefde vir mekaar en mens wou amper fluister om nie die magiese band te versteur nie. Karlien het vooraf ‘n boodskap vir Derick opgeneem wat gespeel het net voordat sy by die paadjie afgeloop sou kom en haar bruidegom het met trane in sy oe daarna gestaan en luister. Toe sy aan haar Pa se arm voor die paadjie verskyn, het sy gelyk soos ‘n ster van die silwerdoek in haar ongelooflike trourok en was die reen die omraming en afronding van ‘n pragtige prentjie.
Die boekies wat gaste net voor die seremonie ontvang het was propvol briewe, stories en onderhoude en het soos mini-tydskriffies gelees. Daarin kon hulle ook sien hoe hulle dag sou verloop, wat hulle sou eet en langs wie hulle sou sit. (Danksy die reen, het hulle nie nodig gehad om die boekies as waaiers aan te wend nie.) Heliumballonne het gedien as konfetti, maar in plaas daarvan dat die gaste dit net in een groot massa laat gaan het, is dit soos gebede een-vir-een opgestuur soos wat hulle die splinternuwe Mnr. en Mev. Hougaard na die seremonie gegroet en geseen het.
Net nadat die seremonie verby was, het die son deur die wolke gebreek en sy verskyning gemaak om met sy laaste strale ook die Bruidspaar geluk te wens terwyl hulle tussen die wingerde gaan foto’s neem het.
Die saal waar die onthaal plaasgevind het, was gedek soos vir ‘n Koninklike bal en gaste mag hulself dalk misgis het dat hulle in ‘n sprokie ingestap het. Kristal kandelare en baie kerslig het die dekor in goud, perel, wit en swart laat skitter en ‘n sagte, romantiese atmosfeer geskep. Derick het Karlien verras met ‘n liedjie wat hy vir haar geskryf en laat opneem het en op daardie noot is die verrigtinge toe afgeskop en die ys gebreek. Die gaste het heerlik geeet en sommer vinnig was die dansvloer ‘n lewende organisme en kon mens die gegons en gelag tot ver in die wingerde hoor.
Ons wens vir Derick en Karlien, is dat hulle huwelik net so vol liefde, pret en avontuur sal wees soos wat hulle troudag was en dat die reen hulle altyd sal herhinder aan die beloftes wat hulle daardie dag aan mekaar gemaak het.
Geskryf deur: Sunelle van den Berg
Verskaffers:
Troubeplanning: Blank Canvas Event Design
Troulokaal: Brenaissance Wine and Stud Estate
Foto’s: Pixel Pro Photography (Albert Bredenhann)
Trourok: Anel C Botha Couture
Troupak: Diaan Daniels
Skryfbehoeftes: Dreambird
Kos: Two Chefs
Dekor en blomme: Special Events, To-Nett’s
Grimering: Joleta Keane
Beligting, vloere: Something Different
Tent: Mrent
DJ: BaHa Entertainment
Trouvideo: FJS Productions
Troukoek en nageregtafel: Pretty Cake